Bomb It Review in Afrikaans – Die Burger South Africa

DIE jaarlikse dokumentêre rolprentfees Encounters begin Donderdag in die Nu Metro-teaters in die V&A Waterfront in Kaapstad. Resensies van van die prente verskyn gereeld. Bomb It! , VSA, 93 minute. Regisseur: Ron Reiss. Vertoontye: 4 Julie 10:15, 7 Julie 18:30 en 12 Julie 20:45. GEKKE en dwase skryf hul name op deure en glase, lui die spreekwoord. Die graffiti-kunstenaars wat hier aan die woord is, is dít allermins. Hulle is ingelig, sensitief en beredeneerd. Bowenal is hulle sosiaal en maatskaplik betrokke. Daar is wel uitsonderings . . . Die regisseur Ron Reiss het die geskiedenis van dié omstrede kunsvorm opgediep en in Philadelphia by “Cornbread” begin, wat volgens oorlewering die eerste merk gemaak het. Van daar spring dié lewendige en onderhoudende dokkie na stede waaronder New York, Londen, Tokio, São Paolo en Barcelona. Elke wêreldstad het sy merkmakers; ook Kaapstad kry ’n beurt. Van die graffiti is saai – dié in São Paolo en Barcelona is sodanig dat ’n mens jou motor sou afskryf om dit te bestudeer. Ook die werk van ene Rat, wat in Parys derduisende rotte op geboue skilder om aan te dui dat in Parys (volgens Rat ’n erg xenofobiese stad) net die rotte “vry” is. Hy bring ook skadufigure van haweloses onder ’n brug aan. Daar is ook onderhoude met die taakmagte wat graffiti oral toesmeer. Ook kom graffiti-kunstenaars wie se werk in kunssale opgeneem word, aan die woord. In die galerye het die werk skielik ’n doodsheid. Dit wys dat dit op die markplein deur algar gesien moet word. Dis hoe dit hoort. Laetitia Pople.

This entry was posted in News and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published.